Produkte - Kleuterkerkkurrikulum
|
Kiddi Beat Gospel
|
Kliek op die volgende vrae vir meer inligting:
Wat is die doel van die program?
Om God, Jesus en Heilige Gees aan die klein kind bekend te stel. So dikwels weet ons kinders wie is Liewe Jesus, maar is nie bewus van die almag van God en krag van die Heilige Gees nie. Ek glo dat die seisoen aangebreek het om ‘n nuwe fase in kleuterbediening te betree. Die Here het in die skryftyd aan my geopenbaar dat die fokus nie meer soseer moet wees op die verhale van die Bybel nie, maar wat God se karakter behels.
So byvoorbeeld sal die verhaal van Noag bekendgestel word, maar die fokus is nie hier op die baie reën of op die 40 dae en 40 nagte in die ark nie, maar op die feit dat God ‘n belofte gemaak het met die reënboog wat vandag nog staan, dat God sy kinders bewaar en dat God in beheer is oor alle aspekte van die heelal. My seuntjie het op 3-jarige ouderdom na my aangehardloop gekom en vir my met groot opgewondenheid kom vertel dat hy God se belofte gesien het – toe ek by die venster uitkyk was daar ‘n pragtige reënboog!
Wie kan die program gebruik?
Die program is nie aan ’n spesifieke denominasie gekoppel nie en kerke vanoor die hele land gebruik reeds die program. Die kurrikulum sluit ook onderrigmateriaal en musiek wat spesiaal vir die ouderdomsgroep gekomponeer is, in.
Wat is die uitkoms van die program?
Die uitkoms van die Kiddi Beat Gospel programme is om kinders bepaalde kernbeginsels vir ‘n Christelike leefstyl te laat begryp en ervaar. Die beginsels van oorgawe, ondersteuning en onderwerping word in elke les bekendgestel sodat die kinders dit as boustene van hulle geloof sal verstaan en kan toepas. Oorgawe kan beskryf word as ons sit aan die Here se voete, ondersteuning deur ons wandel in geloof en onderwerping deur ‘n standpunt as gelowige in die wêreld in te neem.
In die lesinhoud word riglyne rondom oorgawe, ondersteuning en onderwerping, soos van toepassing op die spesifieke Bybelverhaal, uiteengesit. Dit is eintlik niks anders nie as die kerngedagtes wat ek graag by die kinders wil tuisbring. Om die kerngedagte vir die kleuter meer verstaanbaar te maak word kinderwoordeskat ingesluit wat die kerngedagte op hulle vlak verduidelik. In die les word hierdie begrippe herhaaldelik genoem en ook bepraat om seker te maak dat die kleuter verstaan wat God se karakter en ons karakter as Christene behels.
Watter werkswyse word gevolg?
Die Kiddi Beat Gospel programme word rondom ‘n spiraalkurrikulum geskryf. Die effek hiervan is dat materiaal bekendgestel word en op gereelde basis op verskillende maniere en vlakke herhaal word om begrip en kennis te bevorder.
Verder word daar van aksieleer gebruik gemaak. Aksieleer is veral geskik vir kinders met kort konsentrasievermoëns. Deur verskeie kort siklusse van hoor, sien en doen in te sluit, kry die kind die geleentheid, om inligting onmiddellik te verwerk, te internaliseer en sy eie te maak op sy/haar ontwikkelingsvlak. Hy hoor en sien dus konkrete inligting en verwerk en verstaan dit deur aktiewe deelname. Dit vind op ‘n praktiese wyse plaas deur middel van sang, dans, skepping, visuele en ouditiewe stimulasie en tas.
In kort dus: ons speel om te leer en te verstaan. Al drie vorme van leer word dus gebruik om konsepte tuis te bring. Die resultaat is dat kinders meer effektief vir langer periodes kan konsentreer en besig gehou kan word.
Word Bybelverhale vertel?
Die Bybelverhale vorm die kern van elke program. Om die verhale vir die kind so toepaslik moontlik te maak, is die Bybelverhale spesiaal deur Zanne Bosman herskryf. Nadat jy die verhale gelees het, sal jy saam met my stem dat die Here ‘n spesiale storievertel-salwing op haar lewe geplaas het. Om die verhale dan effektief by die kleuter tuis te bring word dit in kleiner gedeeltes opgebreek en telkens gespeel, gedans, geluister en gevoel.
Waaruit bestaan ’n les?
Die lesmateriaal word stap vir stap uiteengesit deur bepaalde lesmomente. Die volgende kern momente is in elke les vervat:
- Kom saam
- Sing saam
- Speel saam
- Praat saam
- Vat saam
Dit is die eerste aktiwiteit wat gedoen word. Soos wat die kinders aankom kan hulle by tafeltjies gaan sit en op skeppende wyse aan die lestema bekendgestel word.
Musiek is vir hierdie aktiwiteit geskryf om op ouderdomsgerigte wyse vir die kinders ‘n lofprysings en aanbiddingsgeleentheid te skep. Musiek en beweging vorm ook deel van die praktiese ervaring van die lesinhoud. Die musiek is op CD beskikbaar. Leer die musiek voor elke les sodat jy met oortuiging kan fasiliteer.
In hierdie tyd word die Bybelverhaal op ‘n praktiese wyse bekendgestel.
Kinders en die fasiliteerder kry hier die geleentheid om te gesels oor die kerngedagte van elke verhaal. In elke “praat saam”- seksie word ook ‘n uitdaging gegee waar kinders die kerngedagte op ‘n praktiese wyse moet gaan toepas en uitleef.
Ter opsomming van die les word iets gemaak om huis toe te neem as herinnering aan die kerngedagte van die spesifieke les.
Is daar onderrighulpmiddels ingesluit?
Met aktiewe leer is sien ’n belangrike komponent van die leerproses. Grafika in die vorm van werkkaarte en patrone is vir hierdie doel as deel van die kurrikulum beskikbaar. Pragtige verhaalprente is ook hierby ingesluit.