SP Hartbeespoort
Kiddi Beat Sp, Hartbeespoort
Sanet Schoeman en Petro Grové het die studio in 2004 begin. Van die begin is ons besigheid geseën. Dinge het net wonderbaarlik in plek geval. Ons het ‘n plek vir ‘n studio gekry, billik geprysde instrumente en kon sommer dadelik begin om ons kreatiewe ruimte reg te maak. Dit was groot pret om die Kiddi Beat logo op die mure te verf. Ons het ure spandeer om maskeerband aan die mure te plak vir die kleurvolle strepe wat ons daar wou hê. Die eindproduk kan julle op die fotos sien.
In April het Kiddi Beat Hartbeespoort sy deure geopen. Dit was ‘n lekker opwindende tyd die kombinasie van materiaal skryf en wag vir die telefoon om te lui met inskrywings. Ons het posters en flyers gemaak en op prominente plekke in die dorp gesit. Vinnig het die nuus versprei. Van ons aanvanklike 5 inskrywings is daar nou bykans ‘n 100 kinders wat op ‘n weeklikse basis in die studio en kleuterskole van die omgewing sing, speel en dans.
Tydens een van ons weeklikse koffie (eintlik rooibostee) sessies het ons begin droom van die ontwikkeling van ‘n Suid Afrikaanse musiekopvoedingsprogram vir die jong kind. Ons wou graag vir ons kinders aan hul eie kultuur bloodstel deur die geleentheid te skep om rympies, liedjies en onderwerpe na aan ons harte in hul moedertaal te leer ken. Ons wou ook graag aan ander Suid Afrikaanse musiekspesialiste erkenning gee vir hul harde werk, ekspertise en kreatiwiteit – en so het Kiddi Beat Sp ontwikkel.
Toe Petro aan die einde van laas jaar moes verhuis het Estelle van Heerden deel geword van die Kiddi Beat Hartbeespoort span. Haar energie, entoesiasme en liefde vir kinders het daartoe gelei dat die besigheid nog verder uitgebrei het. Hierdie studio en kleuterskole dien as die kreatiewe middelpunt vir die skryf en toets van die Kiddi Beat Sp materiaal. Ek het onlangs te vroeg van kraamverlof af weer begin klas gee. Ek kon nie langer die behoefte om ‘n liefde vir musiek te deel en saam musiekmaak ignoreer nie. Dit herinner my aan ou Honnibal van die A-team se woorde: 'I love it when a (music) plan comes together'.
Sanet Schoeman
|