U is hier: / Kiddibeat GospelGeestelike musiekopvoeding vir jong kinders!


Kiddi Beat Gospel

Geestelike program vir kleuters en peuters - (sien 'n pragtige getuienis hier!)

Bekendstelling:

'Laat die kinders na My toe kom'. Met hierdie woorde het die Here die droom in my hart wakker gemaak om die boodskap van Jesus se Liefde en Verlossing in Afrikaans by ons kleuters en peuters tuis te bring. So dikwels ken ons kinders vir liewe Jesus, maar is oningelig en soms selfs bang vir God. Die doel van die produkte is om klein kindertjies deur kreatiewe en speel-leer metodes aan God se karakter bekend te stel.

In Augustus 2006 het die Here aan my gesê dat Hy wil hê dat ek my musiekopleiding, sowel as kennis van die kleuter moet gebruik in ‘n gospel program. In daardie stadium was ek reeds medeskrywer en -stigter van die musiekontwikkelingsprogram Kiddi Beat Sp – ‘n program vir babas en kleuters. Van daar het die Here op wonderbaarlike wyse deure laat oopgaan en ook ander toegesluit om die skryf van die gospel program moontlik te maak. Vanaf die begin van 2007 het ek in gehoorsaamheid en onder leiding van die Heilige Gees begin om die programme te skryf. Ek gee graag aan God al die eer vir die kreatiwiteit, deursettingsvermoë en opwinding wat die programme se skryf in my binneste wakker gemaak het.

Daar is drie verskillende produk reekse beskikbaar.

Kleuterkerk kurrikulum:

Die program word vir 2-4 en 4-6 jariges geskryf. Dit dien as ‘kleuterkerk’ en bestaan uit ‘n program wat oor 2 jaar strek. Die doel van die program is om God, Jesus en Heilige Gees aan die klein kind bekend te stel. So dikwels weet ons kinders wie is Liewe Jesus, maar is nie bewus van die almag van God en krag van die Heilige Gees nie. Ek glo dat die seisoen aangebreek het om ‘n nuwe fase in kleuterbediening te betree. Die Here het in die skryftyd aan my geopenbaar dat die fokus nie meer soseer moet wees op die verhale van die Bybel nie, maar wat God se karakter behels. So byvoorbeeld sal die verhaal van Noag bekendgestel word, maar die fokus is nie hier op die baie reën of op die 40 dae en 40 nagte in die ark nie, maar op die feit dat God ‘n belofte gemaak het met die reënboog wat vandag nog staan, dat God sy kinders bewaar en dat God in beheer is oor alle aspekte van die heelal. My 3 jarige seuntjie het nou die dag aangehardloop gekom en vir my met groot opgewondenheid kom vertel dat hy God se belofte gesien het – toe ek by die venster uitkyk was daar ‘n pragtige reënboog!

Die program is nie aan ’n spesifieke denominasie gekoppel nie en kerke vanoor die hele land gebruik reeds die program. Die kurrikulum sluit ook onderrigmateriaal en musiek wat spesiaal vir die ouderdomsgroep gekomponeer is, in.

Wat is die uitkoms van die program?

Die uitkoms van die Kiddi Beat Gospel programme is om kinders bepaalde kernbeginsels vir ‘n Christelike leefstyl te laat begryp en ervaar. Die beginsels van oorgawe, ondersteuning en onderwerping word in elke les bekendgestel sodat die kinders dit as boustene van hulle geloof sal verstaan en kan toepas. Oorgawe kan beskryf word as ons sit aan die Here se voete, ondersteuning deur ons wandel in geloof en onderwerping deur ‘n standpunt as gelowige in die wêreld in te neem.

In die lesinhoud word riglyne rondom oorgawe, ondersteuning en onderwerping, soos van toepassing op die spesifieke Bybelverhaal, uiteengesit. Dit is eintlik niks anders nie as die kerngedagtes wat ek graag by die kinders wil tuisbring. Om die kerngedagte vir die kleuter meer verstaanbaar te maak word kinderwoordeskat ingesluit wat die kerngedagte op hulle vlak verduidelik. In die les word hierdie begrippe herhaaldelik genoem en ook bepraat om seker te maak dat die kleuter verstaan wat God se karakter en ons karakter as Christene behels.

Watter werkswyse word gevolg?

Die Kiddi Beat Gospel programme word rondom ‘n spiraalkurrikulum geskryf. Dit effek hiervan is dat materiaal bekendgestel word en op gereelde basis op verskillende maniere en vlakke herhaal word om begrip en kennis te bevorder. Verder word daar van aksieleer gebruik gemaak. Aksieleer is veral geskik vir kinders met kort konsentrasie vermoëns. Deur verskeie kort siklusse van hoor, sien en doen in te sluit, kry die kind die geleentheid, om inligting onmiddellik te verwerk, te internaliseer en sy eie te maak op sy/haar ontwikkelingsvlak. Hy hoor en sien dus konkrete inligting en verwerk en verstaan dit deur aktiewe deelname. Dit vind op ‘n praktiese wyse plaas deur middel van sang, dans, skepping, visuele en ouditiewe stimulasie en tas. In kort dus: ons speel om te leer en te verstaan. Al drie vorme van leer word dus gebruik om konsepte tuis te bring. Die resultaat is dat kinders meer effektief vir langer periodes kan konsentreer en besig gehou kan word.

Word Bybelverhale vertel?

Die Bybelverhale vorm die kern van elke program. Om die verhale vir die kind so toepaslik moontlik te maak, is die Bybelverhale spesiaal deur Zanne Bosman herskryf. Nadat jy die verhale gelees het, sal jy saam met my stem dat die Here ‘n spesiale storievertel-salwing op haar lewe geplaas het. Om die verhale dan effektief by die kleuter tuis te bring word dit in kleiner gedeeltes opgebreek en telkens gespeel, gedans, geluister en gevoel.

Waaruit bestaan ’n les?

Die lesmateriaal word stap vir stap uiteengesit deur bepaalde lesmomente. Die volgende kern momente is in elke les vervat:

1. Kom saam

Dit is die eerste aktiwiteit wat gedoen word. Soos wat die kinders aankom kan hulle by tafeltjies gaan sit en op skeppende wyse aan die lestema bekendgestel word.

2. Sing saam

Musiek is vir hierdie aktiwiteit geskryf om op ouderdomsgerigte wyse vir die kinders ‘n lofprysings en aanbiddingsgeleentheid te skep. Musiek en beweging vorm ook deel van die praktiese ervaring van die lesinhoud. Die musiek is op CD beskikbaar. Leer die musiek voor elke les sodat jy met oortuiging kan fasiliteer.

3. Speel saam

In hierdie tyd word die Bybelverhaal op ‘n praktiese wyse bekendgestel.

4. Praat saam

Kinders en die fasiliteerder kry hier die geleentheid om te gesels oor die kerngedagte van elke verhaal. In elke “praat saam”- seksie word ook ‘n uitdaging gegee waar kinders die kerngedagte op ‘n praktiese wyse moet gaan toepas en uitleef.

5. Vat saam

Ter opsomming van die les word iets gemaak om huis toe te neem as herinnering aan die kerngedagte van die spesifieke les.

Is daar onderrig hulpmiddels ingesluit?

Met aktiewe leer is sien ’n belangrike komponent van die leerproses. Grafika in die vorm van werkkaarte en patrone is vir hierdie doel as deel van die kurrikulum beskikbaar. Pragtige verhaalprente is ook hierby ingesluit.

CD’s

Musiek is spesiaal vir die program en ouderdomsgroepe geskryf. Die musiek kan in twee groepe verdeel word. Die eerste groep liedere word gebruik vir lofprysing en aanbidding. Hierdie liedere word stelselmatig oor die 10 weke bekendgestel. Die tweede groep liedere is aktiwiteitsgedrewe.Hier word musiek gebruik om die verhaal te ondersteun soos bv. om die reën en reënboog van Noag uitgebeeld. Bekende wysies word ook dikwels gebruik soos bv ‘Old mcDonald’ en ‘row, row, you’re boat’ of dit vir jou makliker te maak. Kinders word ook aangemoedig om te dans tydens lofprysing en aanbidding. Vir hierdie doel word voorgestelde bewegings ook by bepaalde liedere ingesluit.
Alle musiek is op die CD wat u saam met die program ontvang het asook van die skrywer beskikbaar. Dit gee gesinne die geleentheid om ook by die huis op maat van die musiek die Here te loof en prys. Prys R80 - posgeld uitgesluit.
Luister na "Koningskind" - (2,7MB)
Luister na "Ek stap saam met Jesus" - (1MB)

DVD’s

Die DVD is ‘n natuurlike uitvloeisel van die kinderbedieningsprogram. Ouers sit dikwels met hulle hande in die hare en is nie seker hoe om die evangelie tuis met kinders te deel nie. Prys R100 - posgeld uitgesluit.







Daar is reeds 2 DVD’s in die reeks beskikbaar: Ek stap saam met Jesus en Ek stap saam met Jesus 2. Met die Die DVD’s is ‘n unieke kombinasie van Bybelverhale, gospelmusiek, gesprekke op die kleuter se vlak en selfs kreatiewe aktiwiteite.
Dit kan ook dien as gesprekspunt om God se karakter en Sy liefde vir ons te bespreek is huis, skool of kerkverband. Prys R100 - posgeld uitgesluit.







Wie is die skrywer?

Sanet is getroud met Nico en is ma van 4 kinders. Sy het 'n doktorsgraad in musiek en is die afgelope 5 jaar medeskrywer van 'n musiekontwikkelingsprogram vir babas en kleuters met die naam van Kiddi Beat. Kiddi Beat Gospel word landswyd in kerke aangebied. Sanet doen ook motiveringspraatjies, optredes en opleiding. Kontak vir Sanet vir verdere inligting.


Getuienis:

Hi Sanet,
Ek gee vir die 2-4 jariges klassie by ons kerk en geniet elke oomblik. Ek het gistraand vir Elize gese ek is so opgewonde oor hierdie program dat ek sommer lus het en gee elke Sondag klas... Voor ek aangaan, ek en my seuntjie van drie het so paar maande terug bietjie "gewerk" aan die tien gebooie, totdat hy dit nou behoorlik verstaan het. Toe kom kuier daar mense by ons en Luan vra toe vir die man (42 jaar oud) of hy vir hom God se tien reel kan verduidelik...Luan het toe vir hom dit opgenoem en vir hom gese wanneer ons nie God se reels gehoorsaam nie, word ons gestraf. Die persoon het nie veel gereageer nie, maar ek kon sien hy is baie ongemaklik. So drie weke later het die mense weer by ons kom kuier en toe vertel die man vir my, dat die dag toe Luan vir hom die tien gebooie verduidelik het, hy besef het, hy het net vyf daarvan geken. Hy het skaam gevoel, want hy se hy kan tien soorte sigarette opnoem en tien soorte biere opnoem, maar het nie geweet van die ander 5 gebooie nie.

Toe ek deur program 5 lees toe besef ek net....as ons kindertjies dit kan verstaan en begryp en kan oorvertel, sal dit darem "GREAT" wees, want as Luan 'n man van 42 jaar oud kon beinvloed het, hoe te meer kan hy nie die maatjies van sy eie ouerdom beinvloed nie?

Ons het Sondag die "waarheids" kaartjie behandel, dat God in ons leef. Ek het vir Luan gese dat hy elke dag hierdie week vir iemand moet vertel dat God in hom leef, en gister het hy wragtig vir 'n vreemde tannie in die winkel uit die trollie gese dat God in hom leef.

Jy is welbekend in ons huis, Luan en Hendro praat van jou asof jy familie is en ek wil regtig vir jou dankie se vir dit wat jy al vir ons beteken het. Ons ken jou nie persoonlik nie, maar weet jy is baie spesiaal vir ons.

Luan is MAL oor Dawid en Goliat en hy en Hendro (17 mnd oud) se voorkoppe het gereelds so effense blou skynsel, soos wat hulle speel hulle is Dawid en Goliat....

Mag die Here jou en jou gesin seen...

Liefde
J Fourie

Werfkaart
Kopiereg© 2005 KiddiBeat